076 456-0780

"Goeienaand. My naam is Tania. Roelof het my gestuur om foto's te neem van jou beeldhouwerk vir die Web..." (Roelof is die stigter van die RoseBlood-rockmusiekprojek. Een van Dirk se werke gaan op die verhoog wees tydens Vrydagaand se vertoning.) Ek skud die verbouereerde beeldhouer se yslike hand, baie langer as wat 'n mens gewoonlik 'n vreemdeling se hand skud. Hy het my nie verwag nie, in elk geval nie vanaand nie. Ek sien die groot metaalvrou en vra dadelik: "Is jy vertroud met die werke van die vroeë 20ste-eeuse Italiaanse beeldhouers?"

"Umberto Boccioni — The Unique Forms of Continuity in Space?" antwoord Dirk.

Dit was duidelik die regte openingsvraag. Ons hoef nie te soek na dinge om oor te gesels nie. Sommer aan die diep kant in met die vriendskap.

Ek begin vir Dirk en sy beelde afneem. In dié proses lê ek naderhand op die vloer. Iemand loer by die deur in. Die man lyk so half bekend-van-sien. Dirk stel my voor en sê dat die man een van Stellenbosch se bekendste musikante is, maar ek is te blond om te weet of dit waar is of nie. Na 'n bietjie gesels is die celebrity weer weg.

"Hierdie een lyk scary," sê ek van een van die stukke.

"Wat bedoel jy?" vra Dirk, bekommerd. "My doel is nie om mense te skok nie."

"Dit lyk soos The Man in the Iron Mask se masker. Of soos een van daai middeleeuse folterapparate."

Dirk frons. "Is daar ander beelde wat vir jou scary lyk?"

Ek keer terug na die vrou en bespreek die onvoltooide gedeelte in haar agterkop. Dirk peuter aan die beelde soos ons gesels en soos ek foto's afneem. En ek besef dat daar meer aan hierdie beelde is as wat 'n mens op die oog af sal agterkom. Letterlik. Want hulle het ook metaalingewande: Hart, longe, alles. Siel. "Dit is hoekom hulle so swaar is," verduidelik Dirk.

Van maskers gepraat — Dirk wys vir my 'n koerantfoto van 'n motorfietsrenjaer in aksie. Die foto is van vooraf geneem; mens sien sy helmet, sy sportief-gestreepte klere, en dele van die motorfiets. Die foto is geneem 'n paar rondtes voordat die man verongeluk het. "Dit is sy doodsmasker wat hy reeds gedra het, " sê Dirk. Langsaan is 'n foto van die man se gelukkige gesig, toe hy nog blakend lewendig was.

Ek snak na my asem toe ek die weerkaatsing van een van die metaalvroue in die venster sien. "Kom kyk hier," sê ek vir hom. "Dink jy nie dit lyk fantasties nie?"

"Ek het dit verlede Dinsdagaand vir die eerste keer so gesien," sê hy, bly dat iemand anders die weerkaatsing ook waardeer.

Die gesprek brei naderhand uit na die ander dinge in sy werk- en leefruimte. Die arresbrief van die vorige bewoner van die perseel is nog teen die muur. Ek fotografeer Dirk se karaktervolle skoene en beny die netheid van sy gevoude langbroeke.

"Wat is jou geboortemaand?" vra hy. Ek aarsel. "Ek vra nie in watter jaar jy gebore is nie, net die maand," voeg hy by toe hy sien dat ek nie wil antwoord nie.

Maar dis te laat, dit was die verkeerde vraag; ek hou nie van astrologie nie. "Ek gee nie om om vir jou te sê hoe oud ek is nie," antwoord ek ontwykend, "Ek is een-en-veertig. Ek wil net nie oor sterretekens gesels nie."

Hy frons weer, en peins in steeds-gefrustreerde aanvaarding. "Miskien... miskien moet ek maar aanvaar... dat dit 'n misterie sal bly." Ek weet dadelik dis nie bedoel as 'n flirt nie, dis bloot 'n hardopgedagte.

"Ek is jammer, ek het nie bedoel om misterieus te wees nie," sê ek. Vra vir my 'n ander vraag, sodat ek kan vergoed vir die feit dat ek nie hierdie een wil beantwoord nie."

Maar Dirk kan nie nou aan 'n ander vraag dink nie. Ek besluit dus om hom maar nog 'n vraag te vra: "Is daar iets wat jy nie eet nie?"

"Nie eintlik nie. Hoekom?"

"Sodat ek volgende keer kos kan saambring en ons saam kan eet."

Ek skud die beeldhouer se yslike hand, baie langer as wat 'n mens gewoonlik 'n vriend se hand skud, en gaan neem foto's van Roelof-hulle se oefening.